‘n Reg op uitsig

01 March 2016 761
Die Suid-Kaap en in besonder George is seker een van die beste, wonderlikste en mooiste plekke in die wêreld. Die mooie groen George Piek slaan elke oggend my asem weg as ek my kamer se gordyne oopmaak. Maar vir hoe lank nog? My buurman is besig om 'n groot dubbelverdieping aanbouing reg voor my uitsig op te sit. Mag hy?

Die eerste plek waar ek sal kan kyk is in my eiendom se titelakte. Dalk was dit een van die voorwaardes wat as 'n beperking in die titelakte opgeneem is, dat hy nie my uitsig kan toebou nie. Dit is egter baie selde dat sulke "uitsig" serwitute in titelaktes van 'n gewone dorpsontwikkeling vervat word. As ek dalk die buurman se erf met 'n onderverdeling van my erf afgesny het en uitsig is vir my belangrik, sou dit 'n geleentheid gewees het om so 'n uitsig serwituut te registreer. Ek kon ook my buurman genader het en by ooreenkoms so 'n serwituut laat registreer. As jy 'n goeie verhouding met  jou buurman het en uitsig is vir jou belangrik, is dit dalk nou die tyd om so 'n ooreenkoms te sluit. 

Terug by my buurman se bouwerk. Dit sal nie help dat ek met die grondwetlike stroom saamgaan nie, want die Konstitusionele Hof het reeds beslis dat niemand 'n reg op uitsig het nie. Nou wat dan van die waarde van my eiendom. Die gaan mos nou baie daal met die verlies aan uitsig.

Ek kan seker maak of die bouplanne regsgeldiglik goedgekeur is deur die Munisipaliteit. Dit moet aan die Nasionale Bouregulasies voldoen. In terme van die Nasionale Bouregulasies moet die amptenaar wat die planne goedkeur tevrede wees dat die bouwerk nie die area waarskynlik sal ontsier nie of dat dit nie waarskynlik onooglik sal wees nie of dat dit nie waarskynlik die waarde van die omringende eiendomme kan verlaag of dat dit nie waarskynlik lewensgevaarlik is nie. Die meeste munisipaliteite het in terme van dié Nasionale Bouregulasies sekere reëls vir sekere areas gemaak. In sekere areas mag die huis nie groter wees as 'n sekere grootte nie en is daar bepalings ten opsigte van hoogte en verdiepings en soortgelyke aspekte. Dit is dus beperkende voorwaardes waarvan enige redelike koper behoort kennis te neem.  My buurman se aanbouings voldoen aan hierdie voorwaardes en al daal die waarde van my eiendom as gevolg van die buurman se aanbouing gaan dit my niks help nie.Van die begin af het die moontlikheid bestaan dat die buurman my uitsig regsgeldiglik kan toebou en was die tydelike hoër waarde van die eiendom as gevolg van die uitsig iets wat ek as koper in ag moes neem toe ek die eiendom gekoop het.

Gelukkig ry ek nog elke oggend oor die treinbrug wat heelwat hoër is as die omliggende geboue en kan ek steeds die skoonheid van George Piek geniet. Miskien moet ek my volgende huis op die brug bou.
Tags: Property
Share: