My kind se biologiese vader versuim om sy verpligtinge in terme van die Onderhoudsbevel na te kom – Watter remedies het ek tot my beskikking?

03 May 2017 1468

Dit kom algemeen voor dat met die skikkingsonderhandelinge by egskeiding kom die partye ooreen wat betref die onderhoud ten opsigte van die minderjarige kinders gebore uit die huwelik, na afloop van die egskeiding.  Dieselfde reëlings mag ook bestaan tussen die biologiese ouers van minderjarige kinders wat uit ʼn saamwoon verhouding gebore is.  Wat problematies is, is die afdwinging of uitvoering van die hofbevel by egskeiding, alternatiewelik die onderhoudsbevel wat by ooreenkoms bereik is tussen die partye.

Die Wet op Onderhoud, wet 99 van 1998, maak voorsiening vir verskeie wyses om die onderhoudsbevel af te bedwing, naamlik;  

(i) Ingevolge Artikel 31 van die Onderhoudswet, maak die persoon teen wie die bevel aanvanklik toegestaan is homself skuldig aan minagting van die hof weens die nie-nakoming van ʼn hofbevel en word dit beskou as ʼn kriminele oortreding.  Die persoon in wie se guns die bevel toegestaan is, kan die onderhoudskantore nader om die relevante aansoek te loods, tesame met ʼn ondersteunende eedsverklaring.

Die Onderhoudskantore sal daarna voort gaan om ʼn dagvaarding uit te reik, wat deur die balju op die ander party beteken sal word.  Dit is belangrik om te onthou dat ʼn klagte in terme van Artikel 31 word deur die strafhof uitgevoer en nie deur die onderhoudshof nie.

(ii) Artikel 26 van die Onderhoudswet, maak verder voorsiening vir verskeie siviele uitvoering van onderhoudsbevele, naamlik;

(iii) Artikel 27 bepaal dat indien ʼn persoon versuim om sy onderhoudsverpligtinge in terme van die onderhoudsbevel teen hom nakom, kan die onderhoudsbeampte in hierdie verband genader word vir ʼn lasbrief vir eksekusie op die roerende bates van die persoon.  

Indien die roerende bates nie voldoende is om die agterstallige onderhoud te delg nie, is dit moontlik om op die onroerende bates van die persoon beslag te lê. Dit is in hierdie verband ook moontlik op die pensioenfonds of annuïteit beslag te lê. 

(iv) Indien die onderhoudspligtige ʼn amp beklee, maar steeds versuim om sy onderhoudsverpligtinge na te kom, is dit in terme van Artikel 28 moontlik om by die onderhoudshof aansoek te doen vir ʼn besoldigingsbeslag (BBB) om sodoende die werkgewer van die onderhoudspligtige opdrag te gee om maandeliks die onderhoud van sy salaris te verhaal en aan die begunstigde oor te betaal in die relevante bankrekening soos per die onderhoudsbevel.

In hierdie verband moet die relevante aansoek by die  onderhoudskantore deur ʼn behoorlike eedsverklaring vergesel word.  Die Onderhoudsbeampte sal voortgaan om die onderhoudspligtige te dagvaar om voor die Onderhoudshof te verskyn om redes aan te voer waarom die hof nie betrokke besoldigingsbeslagbevel moet toestaan nie.

Die Onderhoudshof kan voortgaan om ʼn bevel te maak ten opsigte van die agterstallige onderhoud, asook ten opsigte van die lopende onderhoud, wat op ʼn maandelikse basis van die persoon se salaris verhaal sal word. 

Binne 7 (sewe) dae na toestaan van die onderhoudsbevel sal die onderhoudsklerk voortgaan om by wyse van ʼn kennisgewing, tesame met ʼn afskrif van die relevante bevel, die werkgewer van die besoldigingsbeslagbevel te verwittig.

(v) Artikel 30 maak daarvoor voorsiening dat, indien die onderhoudspligtige versuim om in terme van die onderhoudsbevel te presteer, is dit dan verder moontlik om ʼn skuld wat in die guns van die onderhoudspligtige is, beslag te lê.  Dieselfde prosedure sal geld, naamlik dat die persoon in wie se guns die onderhoudsbevel is, die onderhoudshof moet nader en die relevante aansoek te loods wat deur ʼn ondersteunende eedsverklaring deur applikant ondersteun sal word.

In hierdie verband sal daar gewoonlik op ʼn onderhoudspligtige se bankrekening, pensioenfonds of annuïteit beslag gelê kan word.

Dit is belangrik om ingedagte te hou dat die bovermelde remedies met groot omsigtigheid deur ons Onderhoudshowe hanteer word, aangesien die regssisteem vatbaar is vir misbruik deur persone wat die relevante remedies tot hul beskikking misbruik.

 
Share: