Hoe beland 'n saak in die Konstitusionele Hof?

10 November 2015 662
Daar is dikwels 'n persepsie by algemene lede van die publiek dat die Konstitusionele Hof (KH) die hoogste hof in hierdie land is.   In die onlangse uitspraak in SABC vs DA (393/2015) [2015] ZASCA 156 het die Hoogste Hof van Appél in Bloemfontein die appél van die SABC, die Minister van Kommunikasie en die hoof van die SABC, Hlaudi Motsoeneng, van die hand gewys teen 'n bevel van die Hoë Hof in Kaapstad.   Derhalwe is die bevel van die Hoë Hof bevestig in terme waarvan die SABC gelas is om dissiplinêre stappe teen Motsoeneng te neem en hy tydelik geskors is van sy huidige pos by die SABC.  

Die media het berig dat Motsoeneng van voorneme was om appél aan te teken teen hierdie bevinding.   Maar hoe is dit moontlik om appél aan te teken teen 'n beslissing van die Hoogste Hof van Appél in Suid-Afrika (HHA)?   Dit is wel moontlik om appél aan te teken na die KH in die baie beperkte geval waar grondwetlike kwessies ter sprake is.  

Streng gesproke bemoei die KH hom slegs met grondwetlike aangeleenthede en ten einde verlof te kry om appél aan te teken tot die KH moet die appéllant aantoon dat 'n grondwetlike kwessie ter sprake is.   Die Regters van die KH besluit self of dit 'n gronwetlike aangeleentheid is en daar redelike vooruitsigte op sukses in 'n appél is.   Daar is egter nie 'n outomatiese reg op appél nie.   

'n Saak kan op verskillende maniere in die KH opeindig.   Artikel 167 van die Gronwet maak voorsiening dat 'n party die KH direk kan nader wanneer dit in die belang van geregtigheid is en die KH self eers om toestemming gevra is.    Op dieselfde gronde kan 'n party direk appél aanteken na die KH vanuit enige ander hof.   Hierdie prosedure is slegs in uitsonderlike omstandighede beskikbaar.   'n Saak word ook na die KH verwys indien 'n ander hof bepaalde wetgewing ongeldig verklaar, in welke geval bevestiging vanaf die KH verkry moet word.   

Die saak hier bo aangehaal handel onder meer met die bevoegdhede van die Openbare Beskermer.   Instellings soos die Openbare Beskermer en Menseregtekommissie is juis geskep om 'n grondwetlike demokrasie in Suid-Afrika te versterk.   Aangesien die Grondwet spesifiek verwys na die Openbare Beskermer kan daar nie twyfel wees dat 'n grondwetlike kwessie ter sprake is nie.   Of daar redelike vooruitsigte op sukses in Motsoeneng se appél is, is egter 'n ander vraag.   
Tags: Litigation
Share: