Jou Testament – Hoe nou gemaak?

01 July 2015 ,  Theresa Tannous 837

Meneer, Mevrou, die vraag is, “Het jy 'n testament,  en wanneer laas het jy dit hersien?”  Meneer, die testament wat jy 30 jaar gelede vinnig opgestel het, kort voor jy vir jou verpligte weermagdiens aangemeld het, is (dalk?) nie meer van toepassing nie.  Mevrou, is jy seker Sussie moet nog jou antieke Royal Albert tee-stel erf?

Moenie bekommerd wees nie, as jy gedink het dat jy die enigste individue met hierdie probleem is, dan het ek groot nuus vir jou!  Jy deel jou probleem met die meerderheid Suid-Afrikaners wat óf baie jare gelede vir die eerste keer 'n testament opgestel het en nagelaat het om dié belangrike dokument te hersien, óf dalk glad nie 'n geldige testament het nie. Miskien is jou testament bietjie hersien by die geboorte van jou eersteling, dié belangrike gebeurtenis moet immers gevier word, en hierdie bloedjie moet kry wat hom/haar toekom, maar is dieselfde ywer egter aan die dag gelê toe die tweede of selfs derde spruit hul opwagting gemaak het?

Indien jy reken Boetie en Sussie kan self die lot van daardie antieke Royal Albert tee-stel uitwerk, of dat die res van jou besittings dalk te karig is om 'n testament te regverdig, dink weer!  Indien jy ’n voertuig, vuurwapen of juwele besit, en oor ʼn bankrekening beskik, het jy 'n testament nodig.

Maar Meneer en Mevrou, onthou net asseblief dat 'n vinnige lysie op 'n stukkie papier of servet ook nie deug as ʼn testament nie. Jy het ʼn ordentlike testament nodig. ʼn Testament wat goed beplan en deeglik uiteengesit is. ʼn Testament wat jou wense korrek sal deurgee wanneer jy nie meer daar is om dit te doen nie, want Meneer, Mevrou, ons weet dat net jy dinge gaan kan doen presies soos jy wil hê dit moet gedoen word.

Dit is natuurlik een ding om jou wense neer te pen, maar jy moet egter ook oor ʼn mate van Regskennis beskik (en dit natuurlik darem ook so bietjie verstaan) om te verseker dat daar nie van jou belange (of teestelle?) deur die krake in jou testament val nie.  Ek nooi jou dus uit om 'n afspraak by my te maak, sodat ek jou kan adviseur om 'n eenvoudige, maar tegnies korrekte testament op te stel.  My kontaknommer by die kantoor is: 044 – 874 1140.

Hier is 'n paar interessante feite waarvan jy waarskynlik nie bewus is nie:

  • Plaaseiendomme mag nie aan meer as een individu bemaak word nie, die alternatief hiervoor is 'n maatskappy of 'n familie trust.
  • Wanneer plaaseiendomme gewaardeer word, vir boedeldoeleindes, en daar word 'n boerdery onderneming op die plaas bedryf, mag die eksekuteur 30% van die waarde van die plaas aftrek wat 'n kleiner boedel tot gevolg het – sleg vir jou eksekuteur se fooie, maar goed vir jou erfgename!
  • Enige erfporsie aan 'n minderjarige moet aan sy/haar voog uitbetaal word, as alternatief kan die erfporsie ook aan die Voogdyfonds uitbetaal word, waarna die minderjarige dit kan eis sodra hy/sy 18 jaar oud word (onderhewig aan die bepalings van die testament). Alvorens jy egter enige erfporsie aan die Voogdyfonds, wat 'n staatsbeheerde instansie is, laat uitbetaal, beveel ek veel eerder 'n diskresionêre testamentêre trust aan wat deur trustees (van jou keuses) beheer kan word.
  • Persoonlike besittings is slegs items wat deel van jou persoon uitmaak, bv. jou sleutels, klere of kamera, en sluit normaalweg nie motors en vuurwapens in nie. Daarom moet hierdie items eerder spesifiek bemaak word. Geld wat op 'n vaste deposito belê is, word normaalweg nie by die term "kontant" ingesluit nie – toemaar, dit is ook nuus vir meeste regspraktisyns.
  • ʼn Fideikommissum kan eerder vervang word met 'n diskresionêre familie trust.
  • 'n Kodisil is deesdae baie ongewild weens die verwarring wat dit mag veroorsaak. As jy die moeite sou doen om 'n kodisil op te stel kan jy net sowel jou hele testament wysig en oorteken.

Meneer en Mevrou, na dié brokkie inligting slaan jy waarskynlik in sweet uit van bekommernis, en dit voel dalk of 'n tien ton trok jou getref het… hoe nou gemaak? Jy is 'n geskikte kandidaat vir ons Boedel- en Trust-afdeling!  Haal diep asem, maak 'n koppie tee, sommer in die gewone koppies, los eers die Royal Albert en onthou dat Millers Ingelyf jou gratis sal adviseur rakende jou testament. Ons wag vir jou oproep, geniet die tee!

Share: