Oppas vir selfdoen testamente

10 April 2014 ,  Willie van der Westhuizen 636
Hoewel dit in ekonomies moeilike tye baie aantreklik lyk om 'n mens se testament eerder self te doen of ander goedkoop opsies te kies, besef mens nie altyd die implikasies en gevolge daarvan en dat vae en verwarrende woorde in swak opgestelde testamente daartoe kan lei dat daar onnodig meer belastings en duur kostes betaalbaar kan word of dat selfs groot en hartseer familietwiste as gevolg van die onduidelikhede kan ontstaan. Dit kan dan baie maklik net so gevaarlik en dodelik (vir 'n mens se boedel) word soos selfbediening breinchirurgie – iets wat niemand ooit sal oorweeg om aan hulleself te doen nie.

Desnieteenstaande is die tragiese deel hiervan dat wanneer dit kom by die maak van testamente, te veel mense bereid is om die selfdoen metode te volg of hul testament te laat doen deur adviseurs sonder die nodige vaardighede. Die Hoogste Hof van Appèl het onlangs dit nodig geag om die opmerking te maak dat die howe alte dikwels genader word met testamente wat betwis word en wat die produk is van slordige opstelling of onbevoegde advies. Omdat baie mense 'n vrees het vir die dood en daarom nie aan testamente wil dink nie, laat hulle na om hul testamente te maak of dit gereeld op te dateer. Hierdie nalate en foute in testamente as gevolg van slordige bewoording, nalate om aan die formaliteite vir testamente te voldoen en onkunde oor die belastingimplikasies daarvan of selfs van die reg in die algemeen, is van die redes waarom testamente in die howe betwis word of wat onnodige koste en vertragings met die afhandeling van boedels veroorsaak.

Neem byvoorbeeld die vae en verwarrende bewoording wat te dikwels in die algemeen in testamente voorkom of soos wanneer boedelsamesmelding beskryf word. Laasgenoemde kom veral voor waar byvoorbeeld twee gades wat binne gemeenskap van goedere getroud is, hulle boedels saamsmelt in 'n gesamentlike testament deur woorde te gebruik soos "ons bemaak hiermee ons gesamentlike boedel soos volg ...." Of waar gades wat byvoorbeeld buite gemeenskap van goedere getroud is en waar hulle die mede-eienaars is van sê byvoorbeeld die woonhuis waarin hulle woon, woorde gebruik soos "ons bemaak hiermee ons huis aan ons seun ....". In al die gevalle is dit belangrik om vas te stel of samesmelting bedoel word of nie aangesien dit nadelige en duur implikasies ten opsigte van veral vaste eiendom kan hê.

In die geval van gades wat mede-eienaars is van 'n huis en waar dit blyk dat dit hul bedoeling is om hulle boedels met betrekking tot die huis saam te smelt, is die effek daarvan dat oor beide die eerssterwende en die langslewende se helftes van die woonhuis by die dood van die eerssterwende beskik word en oorgaan op die erfgenaam. Hoewel die gedeelte van die eerssterwende by wyse van vererwing oorgedra word wat vry is van hereregte is die gedeelte van die langslewende egter onderhewig aan die betaling van hereregte en in sommige gevalle selfs onderhewig aan geskenkebelasting asook kapitaalwinsbelasting.

'n Ander voorbeeld is die geval waar sommige woorde verskillende betekenisse kan aanneem soos die woord "kontant" in "ek bemaak al my kontant na aftrekking van skulde en uitgawes in my boedel aan X". Die vraag ontstaan dan wat presies bedoel word met “kontant” en of dit ook bates insluit soos vaste depositos en terugbetalings van die SA Inkomstediens. In 'n werklike geval en nadat daar reeds 'n aansienlike hoeveelheid koste aangegaan was het die hof die enger betekenis van die woord “kontant” aanvaar soos in “geld of muntstukke of banknote” en nie die wyer rekenkundige betekenis nie

Hierdie voorbeelde van slordige bewoording by boedelsamesmelting of van woorde wat verskillende betekenisse kan aanneem is dikwels die produk van selfhelp testamente of die sogenaamde "gebruiker vriendelike internet testamente" wat op die korttermyn mag lyk na kostebesparing vir die opstel van die testament maar wat uiteindelik kan aanleiding gee tot duur belastings en kostes wat betaalbaar word. Onder hierdie omstandighede kan selfdoen testamente net so gevaarlik word soos selfdoen breinchirurgie en behoort eerder dus daarvoor professionele hulp verkry te word.
Tags: Will
Share: