Die stygende misdaadsyfer in Suid-Afrika is
vir niemand “nuwe” nuus nie. Wat wel nuuswaardig is, is die toename in honde
wat mense aanval. Verskeie faktore kan aanleiding tot dié stygende syfers gee. Van
die redes wat voorgehou word vir die toenemende voorkoms van aanvalle deur honde
is die verhoogde misdaadsyfer en die aankoop van groter en kwaaier honderasse
as gevolg daarvan, asook die groeiende belangstelling in sekere gemeenskappe in
onwettige hondegevegte.
Wanneer ʼn individu deur ʼn hond gebyt word
kan dit tot groot emosionele-, fisiese- en eiendomskade lei. Wat staan u (die
publiek) egter te doen indien u deur ʼn hond gebyt word? Wat is u regte? Is daar
bepaalde stappe wat u kan volg indien u deur ʼn hond gebyt is? Hierdie artikel
het ten doel om as ʼn informatiewe leesstuk te dien, om u in te lig rakende die
verskillende regsaspekte wanneer u die onverwagte slagoffer van ʼn hondbyt is.
Die slagoffer van ʼn hondbyt kan aanspraak
maak op die gemeenregtelike aksie bekend as die
actio de pauperie. Hierdie gemeenregtelike aksie is gebaseer op die
eienaar se skuldlose aanspreeklikheid vir sy/haar hond se optrede. Vir die aksie
om suksesvol te wees moet die slagoffer (hierna na verwys as die Eiser) egter
verskeie
dinge
bewys. Die belangrikste sluit in:
1.
|
Eienaarskap van die hond. |
2.
|
Dat die hond in stryd met sy natuur
opgetree het. In hierdie verband moet die Eiser en die Eienaar (verweerder
) kennis neem daarvan dat ʼn mak huisdier, in dié geval die hond, teen sy
natuur sou optree indien die huisdier iemand byt. |
3.
|
Dat
die hond ʼn mak huisdier is. |
4.
|
Dat
die hondbyt die Eiser skade berokken het. |
Daar is egter ook ʼn aantal
verwere wat geopper kan word teen die
bogenoemde aksie, naamlik:
1.
|
Indien
die hond sy eienaar, en/of eiendom sou verdedig teen onwettige betreding/inbraak. |
2. |
Waar uittarting
aanleiding daartoe gee dat die hond reageer op die stimuli en daarvolgens
optree teenoor die persoon wat die handeling uitvoer. |
Daar rus geen onus op die beseerde Eiser
om die vreemde optrede van die hond te verduidelik nie.
Wanneer
hierdie tipe eise egter ingestel word is dit raadsaam om nie net met die
hoofaksie (actio de pauperie) alleen te
volstaan nie, maar om ook ‘n alternatiewe eis, gebaseer op ʼn tweede
gemeenregtelike aksie, in te stel. Hierdie gemeenregtelike aksie staan bekend
as die actio legis aquiliae. Laasgenoemde aksie word ingestel waar die Eiser nie
kan bewys dat ʼn bepaalde persoon die eienaar van die hond is nie, of indien
daar nie bewyse gelewer kan word dat die hond teen sy natuur opgetree het nie. Actio legis aquiliae stel die Eiser
daartoe in staat om ʼn eis van nalatigheid teen die persoon wat ten tye van die
voorval in beheer van die hond was, in te stel. Die eis sal egter slegs
suksesvol wees indien nalatigheid bewys kan word.
Uit die bogemelde is dit dus duidelik dat ʼn Eiser twee duidelike aksies het
indien hy/sy deur ʼn hond gebyt word, naamlik die actio de pauperie en actio legis
aquiliae. Daar is egter (soos genoem in die artikel) verskeie vereistes
waaraan hierdie aksie moet voldoen. Om skade te voorkom is dit egter ook
belangrik dat 'n honde-eienaar voorsiening moet maak vir publieke aanspreeklikheidsversekering
om sy/haar boedel teen skadevergoedingsaksies te beskerm. Dit sal raadsaam wees
om in geval van ‘n hondbytvoorval, ‘n prokureur te raadpleeg wat spesialiseer
in liggaamlike beseringseise om die eiser van advies te voorsien en die aksie
namens die eiser in te stel.